top of page
Search
danie4740

Haal die muskiet se ‘byt’ uit


Daar is min dinge wat so irriterend soos ‘n muskiet kan wees. Sy ewige gezoom in my ore net as ek aan die slaap wil raak het my al tot raserny gedryf. Die ergste van alles is, as hy jou aggressiewe reaksie met ‘n vlieëplak of kussing oorleef en hy dring deur jou mondering totdat jy begin jeuk. Ek het gevind dat muskietbyte wat net bokant die naels van my vingers of tone plaasvind die ergste jeuk. Ek krap sό dat al my slaperigheid vir minstens ‘n halfuur verdwyn, tot die volgende een deurbreek. Om nie eens te praat as hy op ‘n ongemaklike plekkie inkruip en sy bytwerk daar doen nie. Ek weet ‘n muskiet byt eintlik, maar somtyds voel dit of hy steek, want dit voel soos ‘n bysteek. My bloed moet baie lekker wees - muskiete is baie lief vir my. Hulle sal oor 10 mense vlieg om my te kom steek. Deesdae, met my gehoor wat so swak is hoor ek nie eers meer die muskiet aanval nie. As ek begin jeuk, weet ek, ek is klaar gesteek.

Gelukkig weet ek dat daar baie ander mense op aarde is wat dieselfde probleem met muskiete as ek het. Geen wonder die digter van weleer, A.D.Keet het hierdie gedig toentertyd al oor die muskiet-irritasie geskryf nie:

MUSKIETE JAG A.D. Keet

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,

Van jou sal net ‘n bloedkol bly

Hier teen my kamermure.

Deur jou vervloekte gonsery,

Deur jou gebyt en plagery

Kon ek nie slaap vir ure.


Mag ek my voorstel, eer ons skei,

Eer jy die doodslag van my kry -

My naam is van der Merwe.

Muskiet, wees maar nie treurig nie,

Wees ook nie so kieskeurig nie.

Jy moet tog ééndag sterwe.


Verwekker van malaria,

Sing maar jou laaste aria -

Nog een minuut vir grasie.

Al soebat jy nou nòg so lang,

Al sê jy ook: ek is nie bang,

Nooit sien jy weer jou nasie...


Hoe sedig sit hy, o die kreng!

Sy kinders kan maar kranse breng,

Nòu gaan die vabond sterwe.....

Pardoef! Dis mis! daar gaan hy weer!

Maar dóód sal hy, sowaar ek sweer -

My naam is van der Merwe.


Lees die volledige artikel in die Januarie 2022 uitgawe van WILDLAND


144 views0 comments

Comments


bottom of page