top of page
Search
  • danie4740

SIG SAUER Sierra 3 BDX 4,5-14X44mm

SIG SAUER se BDX (Ballistic Data Exchange)-sisteem is voorwaar revolusionêr – dit is werklik iets om te waardeer. Ek weet daar is nog baie mense wat teen digitale toerusting weerstand bied. In die verlede was dit nie so duursaam nie, maar soos die jare gevorder het, het hierdie einste toerusting tegnologies algaande verbeter. Dit is nou maar ‘n feit wat soos ‘n paal bo water staan – die digitale era het gekom om te bly. Jagters en skuts moet maar net daaraan gewoond raak en, na gelang die vereiste, daarby aanpas.

Hierdie nuwe teleskoop van SIG SAUER het my al bykans drie jaar gelede beïndruk. Dit was maar ‘n lang wag om dit uiteindelik onder hande te neem, maar dit was uit en uit die moeite werd. Dit is eers wanneer jy self die teleskoop hanteer dat jy waardering vir al sy funkies kry.

Ek gee ‘n kort beskrywing, maar ek gaan nie in detail oor die spesifieke metodes om die BDX-sisteem te laat werk, uitwei nie. Soos almal weet, is ek ‘many moons before’ die digitale era gebore. Dit is baie makliker om vir die kinders te sê: “Laai die App af en sorg dat dit werk. Pa wil gaan skiet.” In my geval vra ek my kleinkinders om dit vir Oupa te doen.

Mens gaan kortliks so te werk: Laai die App met behulp van jou selfoon af en dra dit na jou afstandsmeter wat oor die BDX-funksie beskik, oor. Voer die ballistiese data van jou ammunisie (soos kaliber, spoed, BC, gewig en alle ander toepaslike inligting wat die App vereis) in. Skakel die teleskoop aan en elke keer wanneer jy die afstand neem, sal dit outomaties, met behulp van Bluetooth na jou BDX-teleskoop oorgedra word. Ander funksies wat ook oorgedra en in aanmerking geneem word, is onder meer die windspoed, die temperatuur asook die hoogte bo seespieël.

Wanneer al hierdie inligting op die teleskoop gelaai is en jy die afstand gemeet het, sal die teleskoop die holdover outomaties bepaal. Al wat die skut of jagter dan nog moet doen, is om die verligte punt van die kruishaar op die teiken te plaas en die sneller te druk.

Voorts het die BDX ook ‘n funksie wat jou waarsku indien die kaliber wat gebruik word, nie oor die nodige doodmaakvermoë oor ‘n sekere afstand beskik nie. Dit het ook ‘n ingeboude waterpas wat jou waarsku as jy jou geweer skeef vashou.

Die tegniese spesifikasies vir die Sierra 3 BDX 4,5-14X44mm sien soos volg daar uit:


Ligtransmissie: 90%

MOA: ¼ duim per kliek

Oogafstand: ± 100 mm

Buidikte: 30 mm

Objektiewe lens: 44 mm

Fokus vlak: 2de fokale plein

Totale lengte: 320 mm

Totale gewig: 681 gram


Lees die volledige artikel in die Februarie 2021 uitgawe van WILDLAND: https://www.wildlandmag.co.za/online-store/WILDLAND-Februarie-2021-p282523445







147 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page